Cederbergfees sukses!

Rooibosdag Sukses!
February 20, 2017
Jaarvergadering
February 20, 2017

Die Cederberg Rooibos Kunstefees, wat die afgelope naweek op Clanwilliam plaasgevind het, het feesgangers behoorlik bederf met ’n verskeidenheid toneelstukke, musiekproduksies, praatjies, etes en musiek deur top Suid-Afrikaanse kunstenaars in die Kuiertuin.

Die feesprogram het op Donderdag, 20 Oktober afgeskop met die 150-jaarviering van die Anglikaanse Kerk by die Clanwilliam Museum. Die aanbieder, Stephnie Murray, het die gehoor op ’n reis terug in tyd geneem met haar oudiovisuele vertoning wat sy by die geleentheid aangebied het.

Volgende op die program was die opening van die Cederberg-kunsuitstalling by die Kunshuis, met Dr Ernst van der Walt wat as openingspreker opgetree het en ook sy boek Teen die Stormwinde bespreek het. Ulric Roberts, of te wel Namasun, se uitstalling getiteld Oorsprong van Wysheid het die verhaal van ons land se oudste inwoners, die Khoisan, vertel.

’n Produksie wat ontstaan het uit Clanwilliam se eie mense en wat handel oor alles wat ons drome steel, getiteld Die Droomstelers, het die eerste dag van die fees op ’n hoogtepunt afgeskop. Die saal waarin die produksie plaasgevind het was stampvol, veral met die trotse inwoners van Clanwilliam wat hul mede-inwoners kom ondersteun het. Ander produksies wat deur die loop van die fees aangebied is, sluit in die gewilde My Briljante Egskeiding, Die Song Wil My Nie Los Nie, Mamre en Amper, Vrystaat.

Nog ’n hoogtepunt op die program was die Rooibos Damesoggendtee by Ndedema Lodge met bobaas-koeksisterbakker Retha Skein en fynbakker Martjie Malan wat as gassprekers opgetree het. Retha Skein, ’n gebore Clanwilliamer het vreeslik lekker gesels oor haar reis met koeksisters, terwyl die naaswenner van kykNET Kokkedoor 1, Martjie Malan, gesels het oor die verskil tussen Koeksisters, Koesisters en Bollas. Sy het natuurlik ook ’n paar melktertgeheime verklap.

Op Vrydag, 21 Oktober en Saterdag, 22 Oktober was daar ook musiek deur top Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Nic Stevens, Die Wildberries en Ray Dylan. Die gewilde Vredendal-rockers, Dobbelsteun, was ongetwyveld een van die hoogtepunte op die program en het die gehoor behoorlik aan die sing en dans gehad.

Die laaste item op die feesprogram was ’n Leipoldt en Rooibos geïnspireerde Sondagmiddagete aangebied deur die gewilde kykNET Kokkedoor-beoordelaar, Sjef Nic van Wyk, by die Reinhold’s Restaurant op Clanwilliam. Feesgangers wat die geleentheid bygewoon het was behoorlik in vervoering met die heerlike kos en die nagereg wat bestaan het uit vanielje-, bloubessie- en Turkse-lekker gebakte rooibosvla, met karmelfrummels en vars frambose. Bedien met Cederberg Wyne se Method Cup Classique 2011.

Besoek gerus die Cederberg Rooibos Kunstefees se webblad by www.cederbergfees.co.za en gaan kyk ook na die Facebook-blad (@CederbergKunstefees), Twitter-blad (@Cederbergfees), en Instagram (@cederbergfees).